Opgeskorte vonnis vir tref-en-trap beskuldigde
2011-07-28 22:58
Kaapstad – ‘n Motoris wat met sy bakkie in ‘n groep fietsryers wat vir ‘n fietstoer geoefen het ingery het, is Donderdag ‘n opgeskorte vonnis in die Wynberg-streekshof opgelê.
Een van die fietsryers is in die voorval dood.
Andries Zuiderma, 39, is ‘n vyf jaar opgeskorte gevonnis opgelê vir manslag.
Hy is ook tot drie jaar huisarres gevonnis.
Zuiderma is verder ook ‘n boete van R5 000 opgelê, of nege maande tronkstraf, omdat hy nie ná die ongeluk in Maart 2006 gestop het nie.
Op versoek van sy prokureur, William Booth, is hy toegelaat om die boete in maandelikse afbetalings van R1 000 te betaal.
Die fietsryer, Jan-Hendrik Olivier, 39, wat saam met sy vrou en familie in die Kaap was vir die Cape Argus-fietstoer, is in die ongeluk dood.
Landdros Karel Meyer het gesê daar was ‘n nasionale veldtog om motoriste bewus te maak van fietsryers op die pad.
Hy het bygevoeg dat, al het hy Zuiderma opgesluit soos wat die Olivier-familie wou hê, sou dit Olivier nie teruggebring het na hulle nie.
“Jy het ‘n man en ‘n pa van ‘n familie in ‘n tref-en-trap-ongeluk doodgemaak, ‘n voorval wat ongelooflik traumaties moes gewees het vir diegene wat oorleef het. Die dood sal vir die res van die familie se lewens in hul gedagtes wees,” het hy aan Zuiderma gesê.
Meyer het ook gesê Zuiderma kan homself gelukkig ag dat hy vrygespreek is op die aanklag van dronkbestuur.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA