Malema en kie: Opgeskorte skorsing op eerste klag
2011-11-10 10:49
Johannesburg – Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, is skuldig bevind op aanklag dat hy en ander jeugliga-leiers ongenooid by 'n vergadering opgedaag en dié vergadering ontwrig het.
Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal is ook aangekla en skuldig bevind.
Hulle is twee jaar geskors, maar die skorsing is opgeskort vir 'n tydperk van drie jaar.
Dié aankondiging is Donderdagoggend op 'n mediakonferensie by Luthuli-huis gemaak.
Die groep kan nou binne 14 dae by die nasionale appèlkomitee appèl aanteken. Die sakeman Cyril Ramaphosa is die voorsitter van dié komitee.
Die uitspraak duur voort.
Hy en sy medebeskuldigdes is voor die mediakonferensie in kennis gestel van die komitee se bevindinge.
Hanekom het gesê daar word van ANC-lede verwag om die grondwet en die strukture van die ANC te respekteer.
Verskeie koerante het Donderdagoggend wyd bespiegel oor Malema se skorsing en skuldigbevinding.
Hy het nie die verhoor bygewoon nie omdat hy 'n eksamen in Limpopo moes aflê.
Malema en Floyd Shivambu, is onder meer daarvan aangekla dat hulle onenigheid in die party saai en dat hul uitlatings oor ’n regimeverandering in Botswana die ANC in oneer gebring het.
Malema het later om verskoning gevra vir dié uitlatings.
Die ANC het op 30 Augustus die tugverhoor teen Malema begin – die tweede een in 18 maande.
Die eerste dat van die verhoor is gekenmerk deur geweld, waarna ANC-beamptes die verhoor na 'n ander lokaal verskuif het.
Senior ANC-leiers insluitend Winnie Madikizela-Mandela, Tokyo Sexwale en Fikile Mbalula het in Malema se guns getuig.
Op die laaste dag van die verhoor het Malema erken dat hy foute gemaak het.
Malema het verlede jaar 'n waarskuwing van die ANC se tugkomitee gekry nadat hy pres. Jacob Zuma in die openbaar gekritiseer het.
Die tugkomitee het toe gesê Malema kan uit die party geskors word indien hy binne die volgende twee jaar ernstige verdeelheid in die party saai.
– Watter implikasies hou die uitspraak in Malema se tugverhoor vir die ANC as party? Stuur jou mening na terugvoer@nuus24.com.
– Volg Nuus24 op Twitter