Operateur dood in taxi-geweld
2012-01-24 21:12
Johannesburg – ‘n Veertigjarige taxi-operateur het in die hospitaal gesterf nadat hy in die kop geskiet en in die rug gesteek is in Roseneath, KwaZulu-Natal, het die polisie Dinsdag gesê.
Volgens kol. Jay Naicker het die polisie in Umkomaas Phumlani Ndaba gevind waar hy noodlottig gewond was toe hulle op ‘n skietery gereageer het.
“’n Toyota Hiace en ‘n Toyota Tazz is verlate op die toneel gevind. Beslag is op die voertuie gelê...,” het hy gesê.
“Ons ondersoek ‘n saak van moord en sluit nie die moontlikheid uit dat die moord verband kan hou met die beweerde taxi-mededinging in die gebied nie.”
Volgens Naicker is Ndaba na die hospitaal geneem, maar het hy later gesterf. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal, Willies Mchunu, het sy skok met die moord uitgespreek. Hy het gesê die departement sal ‘n afvaardiging stuur om tussenbeide te tree by die taxi-dispuut in Umkomaas en die omliggende areas.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA