Operasies uitgestel weens krag
2010-06-07 09:33
Beeld
Johannesburg – Militêre pasiënte, wat die afgelope week vir operasies in 1 Militêre Hospitaal in Thaba Tshwane geskeduleer was, moes noodgedwonge hul operasies weens kragprobleme laat herskeduleer.
Dit is blykbaar ook nie die eerste keer die afgelope tyd wat daar probleme was met kragonderbrekings nie, terwyl die hospitaal se noodkragopwekkers ook nie wou werk nie.
Die hospitaal is een van die hospitale wat veronderstel is om noodgevalle weens WB 2010 te kan hanteer.
Moedelose pasiënte – sommige moes van ver gekom het vir operasies – moes onverrigter sake omdraai nadat alle operasies Woensdag afgelas is.
’n Man het gesê sy vrou moes die vorige dag reeds suurstof ontvang het omdat die suurstofinhoud in haar bloed te laag was vir die operasie die volgende dag.
Weens die kragprobleme kon sy eers teen 23:00 die nag suurstof begin kry en deur die nag het die krag twee keer afgegaan.
Die volgende dag het die pasiënte reeds gereed gelê om in die teater opgeneem te word.
Teen 11:00 die volgende oggend het die dokter almal ontslaan wat geopereer moes word.
Daar was weer ’n kragonderbreking en die kragopwekkers wou ook nie werk nie.
Volgens die man het die dokters aan hulle gesê dit was ’n bestiering dat daar geen noodgevalle of ongelukke die betrokke twee dae was nie, anders was die hospitaal in die moeilikheid.
Die dokter het verder aan hom gesê enkele dae tevore was die krag óók langer as ’n dag af en moes die pasiënte in die hoësorgeenheid met noodmaatreëls van suurstof bedien word.
“Afgesien van die ongerief en die lyding wat my vrou moet deurgaan omdat die operasie nou eers later gedoen kan word, beteken dit dat ons elke keer vrugtelose uitgawes moet aangaan omdat ons van ver hospitaal toe moet ry.
“Dié uitgawes eis ons van die weermag terug en dit beloop met elke hospitaalbesoek ’n paar honderd rand.
As die weermag al die geld bymekaarsit, kan hy waarskynlik ’n hele klomp nuwe kragopwekkers koop.”
Kol. Petrus Mothlabane, woordvoerder van die weermag, het erken dat daar ’n munisipale kragonderbreking in die Thaba Tshwane-gebied was.
Die hospitaal se kragopwekkers wou ook nie “inskop” toe die krag afgegaan het nie.
Die probleme is dadelik by kontrakteurs aangemeld, waarna die kragtoevoer gedeeltelik herstel is.
Die toevoer is later ten volle herstel.
Volgens die man het die dokters aan hom gesê dit kan in ’n groot verleentheid en selfs ’n lewensbedreigende situasie ontaard as die wispelturige kragopwekkers met ’n sokkerkrisis wéér die gees sou gee.
Volg Beeld op Twitter
- Beeld