Operasies gestaak by hospitaal
2010-08-12 08:28
Volksblad
Bloemfontein - ’n Kragprobleem by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein waar die noodkrag van die kragopwekkingsmasjien nie aanskakel nie en gewone elektrisiteit ook van tyd tot tyd uitskop, het veroorsaak dat alle groot operasies die afgelope sowat twee maande uitgestel moes word.
Dit is ondanks ’n 11 jaar lange waglys by die departement ortopediese chirurgie wat op 1 495 pasiënte staan.
Een van die pasiënte wat teen groot koste al twee keer van Viljoenskroon na Bloemfontein laat kom is vir ’n heupvervangingsoperasie, moes onverrigtersake huiswaarts keer omdat die operasie telkens op die laaste nippertjie afgestel moes word. Sy is nie die enigste met wie dit gebeur het nie.
Gefrustreerde dokters moes ook al in die teater kleiner operasies noodgedwonge met koplampe en flitsligte voltooi omdat daar nie elektrisiteit was nie.
Hulle is ontsteld omdat dit glo teen die wet is om só te opereer en hulle die risiko loop van groot eise teen die Vrystaatse departement van gesondheid en teen hulself, sou iets verkeerd loop.
Een van die personeellede verduidelik: “Koplampe en flitsligte se lig is baie flouer as dié van normale elektrisiteit. ’n Dokter kan maklik toerusting in ’n pasiënt se liggaam vergeet óf nie ’n aar toemaak nie omdat hy dit nie sien nie. ’n Pasiënt sou hom op dié manier van binne kan doodbloei.”
Prof. J.A. Shipley, hoof van die departement ortopediese chirurgie, sê daar word hoofsaaklik heup-, knie- en kankerchirurgie by die Nasionale Hospitaal gedoen.
“Ons het in Junie agtergekom die noodkrag werk nie. Daar is toe reëlings getref dat die narkose-masjien noodkrag kry.” Dit is batterye in die teater.
“Maar kort-kort het die hoof-elektrisiteit ook begin uitskop. Ons het begin besef dit is nie veilig om só te opereer nie. Groot operasies is van toe af gekanselleer.
“Daar was ’n stadium wat ons weer vir so twee weke lank begin opereer het, maar die elektrisiteit het met tye afgegaan. Ons het gedink daar was noodkrag, maar daar was net noodkrag vir die narkose-masjiene.
“Ons was bang iets kan gebeur. Ons het ander planne begin maak deur dringende operasies by Pelonomi of Universitas te doen. Heup- en knievervangings kan ons egter net by die Nasionale Hospitaal doen omdat ’n mens ’n spesiale teater hiervoor nodig het. Ons doen vandag ’n beenkanker-operasie by Universitas.”
Op ’n vraag na die oorsaak, sê hy: “Die kragopwekker was stukkend. Hulle het dit probeer regmaak. Elke keer as die kragopwekker getoets word, veroorsaak dit dat die normale krag van die hospitaal uitgedoof word.”
Shipley sê hy het die saak met eerw. Moshi Musapelo, uitvoerende hoof van die Universitas-Akademiese Hospitaal, bespreek aan wie hy ook ’n verslag gegee het. Musapelo het onderneem om die aangeleentheid dringend met dr. Sipho Kabane, hoof van die departement van gesondheid in die Vrystaat, te bespreek.
Shipley sê hy en sy departement se chirurge wil al die pasiënte verskoning vir die ongerief vra.
Jabu Mbalula, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Vrystaat, sê dokters is deur die departement gevra om nie te opereer voordat die probleem met die kragopwekker opgelos is nie.
Die kragopwekker is modern, maar het ’n tegniese probleem. Ongesteurde kragtoevoer is egter vir die hospitaal aangekoop wat gebruik moet word in tye van kragonderbrekings.
Die probleem met die kragopwekker behoort volgende Vrydag iets van die verlede te wees.
- Volksblad