Operasies gekanselleer weens kragtekort
2011-07-07 13:08
Johannesburg – Operasies by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is meer as ‘n week lank gekanselleer as gevolg van ‘n kragtekort, het die DA Donderdag gesê.
“Operasies is gekanselleer en noodmaatreëls word ingestel om gedurende die dag elektrisiteit van die verpleërs se wonings na die res van die hospitaal te herlei,” het Jack Bloom, woordvoerder vir die party, in ‘n verklaring gesê.
Bloom sê die gastoevoer na die teaters word geaffekteer. Hy verduidelik dat alarms afgaan aangesien die druk in die gaspypleiding afneem.
Slegs noodoperasies word uitgevoer en daar is ‘n tekort aan skoon beddegoed aangesien die hospitaal se wasgoed ook geaffekteer word.
Bloom meen swak onderhoud en wanbestuur is deel van die probleem.
Simon Zwane, woordvoerder vir die Gautengse gesondheidsdepartement, sê City Power werk aan die probleem.
Volgens hom het die hospitaal kragopwekkers. Hy sê die mediese fasiliteit het op die oomblik elektrisiteit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA