Operasie op hartbaba 'het goed gegaan'
2011-10-25 16:45
Johannesburg – ‘n Noodoperasie op ‘n baba in die Oos-Kaap wat met sy hart buite sy bors gebore is, het goed gegaan, het die provinsiale departement van gesondheid Dinsdag gesê.
“Die seun is nou in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en sal vir die volgende paar maande in die hospitaal bly vir verdere kliniese ondersoeke,” het Sizwe Kupelo, woordvoerder, gesê.
‘n Span van ses dokters het deelgeneem aan Dinsdagoggend se operasie by ‘n hospitaal in Port Elizabeth.
‘n Stuk vel is om die hart geplaas om dit te beskerm terwyl verdere toetse uitgevoer word.
Die baba se 17-jarige ma het Maandag by haar huis geboorte geskenk voordat sy en die baba na die Dora Nzinga-hospitaal gehaas is, het Kupelo gesê.
In ‘n soortgelyke geval is Ashleigh Louw op 9 Januarie 2010 gebore met haar hart buite haar bors, bloot gedek deur ‘n klein lagie vel. Dokters het later daardie maand op haar geopereer.
Sy is op 5 Maart by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg dood.
Die toestand kom slegs in een uit elke miljoen babas voor.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA