Openbare vervoer 'n 'tydbom'
2011-07-15 08:03
Pretoria – Openbare vervoer is potensieel ’n tikkende tydbom wat dringende aandag moet kry.
So het Rehana Moosajee, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir vervoer, Donderdag op die 30ste Suid-Afrikaanse Vervoerkonferensie in Pretoria gesê.
Volgens haar is die probleem ’n gebrek aan duidelikheid van oogmerke.
Moosajee het verwys na ’n stelling wat Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer, met die opening van die konferensie gemaak het.
Cronin het gesê nuwe voorstelle oor die finansiering van padbou en -verbetering kort dringend aandag.
“Die werklikheid is dat die meeste mense openbare vervoer gebruik en daagliks lang ure daarop deurbring. Dit is weens apartheid-stadsbeplanning. Dit het steeds ’n invloed op mense,” het Moosajee gesê.
Sy meen geld moet gevind word om openbare vervoer, waaronder taxi’s, te subsidieer.
“Daar kan nie ’n verlaging in standaarde wees nie. Mense wag steeds ure op openbare vervoer. Daar is ruimte vir ontwikkelings soos die Gautrein, maar baie besluitnemers is uit voeling met wat die meeste mense beleef wat daagliks openbare vervoer gebruik.
“Motoriste behoort te help om openbare vervoer te subsidieer.”
Cronin het gesê R20 miljard word aan die verbetering van verkeersvloei bestee, maar die mense in die grootste nood vind nie daarby baat nie.
Nazir Alli, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), het Woensdag gesê die uitdaging is die verspreiding van stedelike gebiede.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld