‘Openbare Dienstekommissie moet Manyi ondersoek’
2011-03-03 18:57
Johannesburg - Die Vryheidsfront Plus (VF+) gaan die Openbare Dienstekommissie vra om Jimmy Manyi se aanstelling as woordvoerder vir die kabinet te ondersoek ingevolge die Wet op Openbare Dienste 103 van 1994.
Ingevolge artikels 30(a) en (b) mag staatsamptenare nie enige addisionele werk doen en finansiële vergoeding daarvoor ontvang nie.
“Daar is heelwat inligting wat daarop dui dat Manyi ook ander posisies, benewens sy posisie as president van die Black Management Forum, beklee.
“Die Openbare Dienstekommissie moet hierdie onreëlmatigheid ondersoek en ‘n aanbeveling maak of Manyi se aanstelling buite orde is al dan nie”, het adv. Anton Alberts, VF+-parlementêre woordvoerder oor arbeid, gesê.
“Die minister van staatsdiens en administrasie mag wel posisies buite die voltydse pos goedkeur indien die posisie nie inmeng met die wetlike verpligting om voltyds aandag aan die staatsdienspos te wy nie.
“Ons weet egter nie of dit die geval is met Manyi nie en daarom word die ondersoek gevra,” het adv. Alberts gesê.
Volgens die VF+ beklee Manyi die volgende poste; president van die Black Management Forum, president van die BMFI (die Black Management Forum se beleggingsvoertuig), president van die Confederation of the Black Business Organisations (CBBO), nie-uitvoerende direkteur op verskeie maatskappye se direksies, soos IBM South Africa en Meegbank Holdings.
“Die VF Plus het nog altyd volgehou dat Manyi nie geskik is om ‘n openbare pos te beklee nie. Die publieke reaksie op sy rassistiese uitsprake het weereens die party se mening beaam,” het adv. Alberts bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.