Openbare Beskermer dalk in hegtenis geneem
2011-07-06 07:23
Johannesburg – Adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het haar glo skuldig gemaak aan bedrog en korrupsie terwyl sy werksaam was by die Suid-Afrikaanse Wethervormingskommissie (SALRC), het The Star Woensdag berig.
Volgens "onafhanklike bronne" het Madonsela se maatskappy glo werk vir die SALRC gedoen en is R1,8 miljoen betaal terwyl sy drie jaar gelede daar gewerk het.
Madonsela het aan The Star gesê sy het nooit haar maatskappy vir haar werkgewers weggesteek nie. Sy het ook gesê haar maatskappy is nooit meer as R500 000 betaal vir werk wat vir die departement van justisie gedoen is nie.
Volgens The Star het "verskeie" onbekende polisiebronne gesê sy kan binnekort in hegtenis geneem word. Genl. Bheki Cele se kantoor het nie kommentaar gelewer nie.
Madonsela is besig om verslae te finaliseer oor huurkontrakte vir nuwe hoofkwartiere in Pretoria en Durban vir onderskeidelik R500 miljoen en R1,1 miljard. In haar voorlopige verslag het die OB Cele skuldig bevind aan wanadministrasie vir sy rol in die huurkontrakte.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA