'Op wie skiet boere?'
2010-09-30 07:46
Johannesburg - Nes Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, “siek en sat is vir konferensies” wat geen vrugte dra nie, is hy “siek en sat vir vae beskuldigings en veralgemenings teenoor boere”.
So sê Ben Marais, president van die landbou-organisasie TLU SA, nadat Mdladlana eergister gesê het arbeidsinspekteurs dring aan op koeëlvaste baadjies omdat sekere boere op hulle skiet.
“Boere is net so siek en sat daarvoor dat mense hul plase onregmatig betree, vee en implemente steel of selfs mense op plase aanval,” het Marais gesê.
“Daar is op ’n protokol ooreengekom waarvolgens enige mens wat ’n plaas wil besoek, die regte prosedure moet volg.
“Waar daardie protokol gevolg word, sal misverstande verhoed word en wedersydse respek en samewerking volg,” het Marais in ’n verklaring gesê.
Hy het gesê as die arbeids-inpekteurs bedreig voel, is dit waarskynlik “omdat hulle bedreig voel deur die toename in rooftogte en kapings waaraan niemand ontkom nie”.
Marais het gesê met ongestaafde uitsprake soos dié lewer Mdladlana geen bydrae om boere se die gesindheid teenoor amptenare te verbeter nie en “bevorder hy veel eerder rassisme in ’n nuwe gewaad”.
Die TLU SA-president het die minister uitgedaag om ’n “datum, tyd en plek te noem waar hierdie voorvalle plaasgevind het” .
Marais het gesê dit is baie verdag dat boere op arbeidsinspekteurs sou geskiet het, maar dat ’n groot getal polisielede nie kort daarna op die plase opdaag het nie.
Hy eis dat die saaknommers van klagte wat by polisiekantore aangemeld is, bekend gemaak word.