Oos-Kaapse polisiebeampte kry borgtog
2011-11-28 21:05
Johannesburg – ‘n Oos-Kaapse polisiebeampte wat van moord aangekla is, is Maandag in die Motherwell landdroshof op borgtog van R1 000 vrygelaat, het die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) gesê.
Konst. Nathi Sindzwanga (29) van die Mthatha nasionale intervensie eenheid het glo vroeër vandeesmaand ‘n man in Mthatha doodgeskiet.
Hy moet volgende jaar op 15 Februarie weer in die hof verskyn, het Moses Dlamini, woordvoerder van die OKD gesê.
Sindzwanga het na bewering vir Siyabulela Mzimela by sy huis doodgeskiet.
Lede van die OKD het glo na ‘n verdagte gesoek toe hulle na Mzimela se huis gegaan het.
Mzimela se meisie het agtergekom dat mense besig is om toegang tot die huis te verkry en het na die slaapkamer gegaan om hom daarvan in te lig.
Mzimela het glo uit die kamer geloop met ‘n byl en is deur een van die lede van die nasionale intervensie eenheid geskiet.
Hy is na die Livingstone hospitaal geneem waar hy aan sy wonde beswyk het.
Sindzwanga is Vrydag in hegtenis geneem en van moord aangekla.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA