Oos-Kaapse man doodgesteek ná rusie met vroue
2010-12-19 18:53
Johannesburg - 'n Twintigjarige man is Saterdag in Kirkwood doodgesteek
nadat hy in 'n rusie met twee vroue betrokke geraak het, het die Oos-Kaapse
polisie gesê.
"Volgens die polisie se informasie...het die twee vroue
en die oorledene, Bongani Boyana, in die township in Kirkwood baklei," het
lt.kol. Priscilla Naidu gesê.
Een van die vroue het na 'n familielid se huis gehardloop
vir hulp. Boyana het haar gevolg en die bakleiery het binne die huis
voortgegaan.
"Die verdagte het die huis binnegekom en Boyana in die
nek, kop en neus gesteek en weggehardloop," het sy gesê.
Die vrou is bekend aan die inwoners van die gebied en die
polisie verwag om binnekort iemand in hegtenis te neem. 'n Moordsaak word
ondersoek, het Naidu gesê.
- SAPA