Oos-Kaap kort R15 milj. om onnies te betaal
2012-01-05 11:47
Johannesburg – Die Oos-Kaap se departement van onderwys het die provinsiale tesourie genader vir R15 miljoen om agterstallige salarisse wat nog aan onderwysers verskuldig is te betaal, het die Dispatch Online Donderdag berig.
Die departement het dit gedoen nadat hy nie hierdie finansiële jaar ‘n agterstand van betalings wat verband hou met salarisse en toelaes van tydelike onderwysers kon bekostig nie.
Die woordvoerder vir die provinsiale tesourie. Nosisa Sogiyose, het bevestig dat korrespondensie op 13 Desember 2011 ontvang is van die provinsiale departement van onderwys, waarin daar vir die geld gevra is..
Sy het gesê die bedrag is R15 733 301,72 vir salarisse wat agterstallig was en vir toelaes van tydelike onderwysers.
Dit was agterstallige geld waarvoor daar nie in die huidige jaar begroot is nie, het Sogiyose gesê.
Nietemin het sy gesê dat die tesourie besonderhede rondom die hoeveelheid geld wat versoek is sal bevestig voordat enige betalings gemaak kan word.
Opposisiepartye en die SA Democratic Teachers Union (Sadtu) het die departement gekritiseer omdat hulle hul begroting so swak bestuur het, met sommige onderwysers wat tot ‘n jaar moes wag om betaling te ontvang.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA