Oorvol lykshuis veroorsaak chaos
2010-02-03 05:52
Durban – Durban se Galestraat lykshuis is oorvol en werkers het gedreig om te staak indien niks daaraan gedoen word nie, het dr Sibongiseni Dhlomo, KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Dinsdag gesê.
“Die lykshuis is veronderstel om 160 lyke te vat, maar daar is oor die 180. Dit het die werkers forseer om van die lyke op die draagbare te sit,” het Dhlomo gesê nadat hy die lykshuis Dinsdagaand besoek het.
Sy het besoek het gekom nadat werkers glo gedreig het om te staak as iets nie oor die kwessie gedoen word nie.
Volgens hom was die probleem dat lyke nie deur familielede opgeëis word nie.
“Ons het 24 lyke wat niemand nog kom eis het nie. Ons het besluit dat hulle behoorlik begrawe moet word sodat ons die familielede kan wys waar hulle grafte is wanneer hulle uiteindelik kom,” het hy gesê.
Dit het gedurende sy besoek uitgekom dat sommige van die lyke al sedert 2008 daar is.
Volgens Dhlomo begrawe die regering nie onmiddellik ongeïdentifiseerde persone nie, aangesien amptenare eers probeer om die families op te spoor.
Van die lyke word na die Phoenix lykshuis geskuif om plek te maak.
Dit het weer op sy beurt chaos veroorsaak, omdat daar aan sommige mense wat by Galestraat opgedaag het om familielede se lyke te kry, gesê is dat die lyke vermis is.
“Daar was ‘n gesin wat gedink het dat hulle baba se lyk weg is. Ons het hulle wel ingelig dat dit nou in Phoenix is.”
- Sapa