Oorsese beleggers wil plase in SA koop
2011-02-03 07:30
Bloemfontein - Beleggingsfondse van Amerika, Europa en selfs China val oor hul voete om in landbou in Suid-Afrika te belê. Hulle wil hier plase koop, waar ’n goeie wins te maak is en boere ’n bloeitydperk beleef.
Ernst Janovsky, hoof van Absa Agribesigheid, het op Vrystaat Landbou (VL) se landboubestuursdag buite Bloemfontein gesê boere hier besef nie hoe mense in die wêreld soek na beleggingsgeleenthede nie – en die landbou hier is só ’n geleentheid.
Boerdery in Suid-Afrika is nou uiters winsgewend. Die afgelope jaar is produkte met ’n bruto waarde van R158 miljard verkoop.
“Dit (die wins) wat jy huis toe gevat het, was R42 miljard. Deel dit deur 39000 kommersiële boere, dan kry jy ’n gemiddeld. Maar dis die beginsel (wat tel),” het hy gesê met verwysing na die bloeitydperk.
Janovsky het gesê hulle verwag die jaarlikse wins gaan afkom tot R38 miljard en later tot R32 miljard. Dit gebeur in siklusse. Die beginsel is egter dat dit die meeste geld is wat die boere in hul lewe gemaak het en dit is wat oorsese beleggers lok.
“Ek het nou fondse wat na jou sal kom, die plaas nou koop en jou aanstel as bestuurder en jou ’n goeie salaris betaal, want hy wil in die landbou belê. Dit is nie Suid-Afrikaanse geld nie, dit is Europese geld, Amerikaanse geld, dis Chinese geld.
“Hulle is bereid om aandele in jou plaas te koop. Hulle doen dit in Australië. Die manne is bereid om geld te gee, want hulle sien wins in landbou.”
Janovsky het gesê dit is een van die min beleggings waar jy ’n baie goeie opbrengs op kapitaal kan kry. Die grondprys styg in die omgewing van 10% tot 15% per jaar. As jy jou buurman se plaas wil koop en jy het hom nog nie ’n aanbod gemaak nie, moet jy weet die prys styg jaarliks met 10%.
Die styging is omdat drie kopers om die grond meeding: Die boer self wat meer geld maak én meer kan betaal; die leefstylkoper wat veral in die Oos-Vrystaat, Vrede, Memel, die Bosveld en die Karoo plase koop; en die staat. Elke keer as die staat ’n plaas koop, wil 50% van dié boere van wie hy gekoop het, ’n ander plaas koop.
“Die rentekoers is 7%. Dis die laagste in 30 tot 40 jaar. Dis nou die beste tyd ooit om kapitaal in landbou te belê. Almal weet dit.”
Janovsky het in sy toekomsblik oor pryse gesê die mielieprys kan hopelik teen oestyd R1 600/ton haal mits die wisselkoers reg is. As die wisselkoers tot R8/dollar val, gaan die mielieprys tot R2 000/ton klim.
Sowat R25/kg vir beesvleis vir Januarie is nie sleg nie en beteken dit kan teen Desember R32/kg wees. Lamvleis gaan R45/kg tot R60/kg vir die A-klas-karkasse bly. Lammers gaan R17/kg tot R19/kg, oftewel ’n gemiddeld van R18/kg gaan.
Koei- en varkpryse gaan goed wees en die hoenderboere maak geld, het Jankovsky gesê.
- Volksblad