Ooreenkoms oor renosters bereik
2012-02-09 09:01
Johannesburg – Die regerings van Mosambiek en Suid-Afrika het ’n ooreenkoms bereik om renosterstropery in die Groter Limpopo-oorgrenspark en spesifiek die Krugerwildtuin te bekamp.
Luidens ’n verklaring van SANParke het Edna Molewa, minister van omgewingsake, vroeër die week ’n noodvergadering met haar eweknie in Mosambiek, Fernando Sumbana jr., gehad oor renosterstropery in die Krugerwildtuin wat besig is om “handuit te ruk”.
Altesame 252 renosters is verlede jaar in die wildtuin gestroop. Vanjaar is 28 renosters reeds in die suidelike deel van die wildtuin vir hul horings doodgemaak.
Sumbana het Molewa die versekering gegee dat sy regering wetstoepassing, onder meer wat renosterstropery betref, baie gaan opskerp.
Hy het gesê Mosambiek se natuurlike hulpbronne word tans ook deur “georganiseerde lede van ’n soort Mafia” geplunder.
Volgens Sumbana het die Mosambiekse regering ook ’n eenheid op die been gebring wat spesifiek gemik sal wees op die bekamping van renosterstropery.
Die twee regerings het ook in beginsel besluit om die Massingir- en Corumanagebiede by die oorgrenspark in te sluit sodat dit as ’n buffer sal dien vir die suidelike deel van die Krugerwildtuin.
Die formele ooreenkoms om die twee gebiede, asook gebiede “tussenin”, deel van die Groter Limpopo-oorgrenspark te maak, sal binnekort gesluit word, het dr. David Mabunda, uitvoerende hoof van SANParke, gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld