Oop toilette 'onwettig, onmenslik en vernederend'
2011-04-30 08:00
Kaapstad - Luide applous en ’n gejuig het in die openbare galery van die Wes-Kaapse hooggeregshof opgeklink toe regter Nathan Erasmus Vrydag bevind het die oop toilette in Makhaza is ongrondwetlik, onmenslik en vernederend.
Tientalle mense in ANC-T-hemde het van vroeg in die galery gesit om na Erasmus se uitspraak te luister.
Julius Malema, ANC-jeugleier, Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, Fikile Mbalula, minister van sport, en Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-leier en ANC-burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, het die verrigtinge bygewoon en mekaar na afloop daarvan gelukgewens.
Hoewel Lindiwe Mazibuko, nasionale DA-woordvoerder, en verteenwoordigers van die stadsraad teenwoordig was, het hulle geloop voor die uitspraak klaar gelewer is.
Malema het die hof onder ’n luide toejuiging van “Juju! Juju! Juju!” verlaat. Hy het die skare later toegespreek en gesê me. Helen Zille, DA-leier, sal nie aan die beslissing gehoor gee nie. “Tony (Ehrenreich) sal maar die toilette moet toemaak. So, julle sal die ANC moet instem sodat hy dit kan doen.”
Fransman het op sy beurt geëis dat Zille bedank. “Skaam jou om ons mense tot in die hof te beveg oor oop toilette.”
Ehrenreich het gesê dit is duidelik die DA gee net vir die mense van Constantia en Bishopscourt om en vergeet van die inwoners van Khayelitsha.
Die SAKP het in ’n verklaring gesê terwyl die rykstes in die stad spesiale status geniet – wat beteken dat hulle bykomende munisipale dienste kry – wil die DA-beheerde stadsraad nog sy onmenslike en ongelyke behandeling van die mense van Makhaza verdedig.
Adv. Lawrence Mushwana, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het gesê hy hoop dié saak sal ’n presedent skep vir inwoners in soortgelyke omstandighede, berig Carryn-Ann Nel.
Andile Lili, ANC-jeugligaleier in Khayelitsha en ook een van die applikante in die aansoek, het in reaksie gesê dit is ’n bewys die stadsraad minag arm gemeenskappe se menslikheid.
Die DA het kennis geneem van die uitspraak en aanvaar die beslissing. “Ons sal vooruit beweeg en volhou om die informele woonbuurte binne die perke van die nasionale behuisingskode te verbeter,” het Zille in ’n verklaring gesê.
Malema het sy toespraak afgesluit met sy jongste treffer, “Kiss the Boer, kiss the farmer” terwyl hy onder luide toejuiging getoi-toi het.
- Die Burger