Oom moet tronk toe, sê slagoffer (7)
2011-01-26 09:20
Die Burger
Paarl - Die prokureur van ’n selferkende kinderverkragter het Dinsdag gevra of dit ’n negatiewe invloed op die slagoffer – ’n jong seun – kan hê as die verkragter tronk toe gestuur word.
Ian Appleton (72) het op 11 Oktober in die Paarl-streekhof erken hy het ’n seun – toe sewe jaar oud – in 2007 en 2008 herhaaldelik verkrag.
Die verkragtings het op die gesin se plaas buite Stellenbosch gebeur. Appleton, ’n afgetrede rekenmeester en oudonderwyser van Seepunt, was ’n jare lange familievriend en het die gesin gereeld besoek.
Die staatsaanklaer, Rialda Jacobs, het Dinsdag met die voortsetting van die vonnisverrigtinge Tanya van der Spuy, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch, geroep.
Die seun het sowat ’n jaar ná die voorvalle by haar terapie ontvang.
Sy het gesê die seuntjie het tydens speelterapie figuurtjies van ’n ridder, soldaat en ’n seuntjie met ’n bril gekies om homself te verteenwoordig. Laasgenoemde het hy as ’n “bleeksiel (geek)” en “die perfekte ek” beskryf.
Vir Appleton het hy voorgestel as ’n “skelm (crook)” – ’n glimlaggende mannetjie met sy hande agter sy rug – en ’n speelgoed-vlermuis op dié figuurtjie se kop gesit.
Sy het onder meer gesê die seun het in die 18 sessies wat hulle gehad het gesukkel om sy gevoelens uit te druk. Dan het hy ook tydens die speletjies aggressie getoon, met ’n ambivalensie oor dié aggressie. Hy het byvoorbeeld speelgoed-missiele op Appleton se figuurtjie gerig, maar dit dan weer weggevat.
Volgens Van der Spuy het hy tekens getoon dat sy vertroue geskend is. Dit blyk hy internaliseer sy gedrag. Dit verhoog die risiko dat sy emosionele steurnis verleng kan word.
Terwyl sy getuig het, het Appleton soms sy kop laat sak of vorentoe gewieg in die beskuldigdebank.
John Riley, Appleton se prokureur, het gevra of dit ’n negatiewe invloed op die kind sal hê as Appleton tronkstraf opgelê word. Sy het gesê dit kan, maar dit kan ook ’n negatiewe invloed op hom hê as daar geen gevolge is nie. Volgens haar het die seuntjie gesê “oom Ian” moet tronk toe gaan.
Streeklanddros Norma Smile het die saak tot 11 Maart uitgestel.
- Die Burger