Ooggetuie vertel van Jub Jub-jaagtog
2011-05-25 12:36
Johannesburg – 'n Ooggetuie wat 'n video van die moordbeskuldigdes Molema "Jub-Jub" Maarohanye en Themba Tshabalala opgeneem het, het Woensdag in die Protea-landdroshof getuig.
Ntokozo Mahlangu (18) het aan die hof gesê sy en haar vriende het op die hoek van Mdlalosestraat gestaan toe sy sien hoe die mans jaag.
Sy het gesê die motors het langs mekaar gery, en dit is toe sy haar selfoon uitgehaal en die opname begin het.
Mahlangu het gesê sy het Jub Jub as een van die bestuurders herken.
Sy het 'n kopie van die video die aand van die ongeluk aan 'n joernalis gegee. Die polisie het die video in Julie verlede jaar ontvang.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA