Ooggetuie het Jub Jub agter stuurwiel gesien
2011-03-23 12:46
Johannesburg – ‘n Groep vriende het in opwinding geskree toe hulle die musikant Molema "Jub Jub" Maarohanye herken agter die stuurwiel van ‘n Mini Cooper terwyl hy verby gery het tydens ‘n resies met ‘n ander motor, het die Protea-landdroshof Woensdag gehoor.
Dít was die getuienis wat Portia Masika (18) in die moordverhoor van Maarohanye en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala gelewer het.
Masika het saam met ‘n groep vriende gestap toe twee Mini Coopers langs hulle resies gejaag het, het sy vertel.
Sy sê die groep het begin skree toe hulle opmerk dat “Jub Jub” een van die bestuurders is.
Haar vriend Ntokozo Mahlangu het ‘n video van die motors met ‘n selfoon geneem.
Masika het die hof vertel sy het nie die ongeluk sien gebeur nie. Sy het ná die ongeluk na die toneel gehardloop.
Ander getuies het gesê dat Maarohanye en Tshabalala resies gejaag het toe die ongeluk gebeur het.
‘n Ongeluk het plaasgevind toe die mans hul Mini Coopers glo onder die invloed van dwelms in Soweto gery het terwyl skoolkinders terug huis toe gestap het.
Andile Mtombeni (19), Phomelelo Masemelo (16), Mlungisi Cwayi (17) en Prince Mahube (17) is dood in die ongeluk.
Fumani Mushanana en Frank Mlabo het ernstige beserings, insluitende breinskade, opgedoen.
Die saak duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA