Onwettige mynbou ‘n ernstige probleem – DA
2012-05-24 17:00
Johannesburg – Onwettige mynbou is ‘n groeiende probleem waaroor die regering en die polisie die publiek moet inlig, het die DA Donderdag gesê.
“Die mees onlangse berigte oor onwettige myners wat ondergrond vasgekeer is by ‘n verlate myn in die Noord-Kaap dui daarop dat die probleem groot is en moontlik groei,” het die party in ‘n verklaring gesê.
Wat minder bekend is, is hoe onwettige mynbou inmeng met legitieme mynbou-operasies, met dié in die bedryf wat sê sindikate is ‘n ernstige probleem, het die DA gesê.
Die party het gesê dit is nie duidelik watter stappe deur die owerhede geneem word om die probleem te bestry nie en die publiek moet ingelig word oor die skaal daarvan.
Die DA het ‘n beroep om die ministers van minerale hulpbronne en die polisie gedoen om ‘n verklaring oor die kwessie uit te reik. Die party sal ook vrae in die parlement voorlê oor onwettige mynbou.
“In onwettige mynbou-aktiwiteite word die desperaat armes gebruik as kanonvoer deur sindikate wat hulpbronne steel waaruit al die mense van Suid-Afrika voordeel behoort te trek.
“Dit moet nou ernstig opgeneem en gekeer word,” het die party gesê.
Onwettige myners word op die oomblik gered uit myne naby Welkom in die Vrystaat, Kleinzee in die Noord-Kaap en in die weste van Johannesburg.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA