'Ontvoerings gaan oor geld, nie Al-Kaïda'
2011-11-29 09:00
Johannesburg – Die ontvoering van buitelandse toeriste in afgeleë gebiede van Mali word om net een rede gedoen: geld.
“Die nomadiese groepe verantwoordelik vir die ontvoerings probeer boonop gedurig mekaar se gyselaars ‘steel’.
“Die groepe rowers se verbintenis met Al-Kaïda of ander ideologiese bewegings is in die meeste gevalle lank reeds vergete. Hulle ontvoer die mense om lospryse te kry en dit is geen geheim nie dat Europese toeriste maklike teikens is.”
So het Mark Courtney, ’n gyselaaronderhandelaar van Johannesburg wat al jare in Wes-Afrika betrokke is, Maandag die situasie beskryf waarin die jongste groep van drie toeriste, insluitend ’n Suid-Afrikaner, hulle bevind.
Die Suid-Afrikaner, glo Stephen McGown (37), en ’n Nederlandse treindrywer, Sjaak Rijke (51), en twee Sweedse toeriste is verlede week deur gewapende mans by ’n vakansieoord naby Timboektoe in die noorde van die land ontvoer. ’n Duitse toeris saam met hulle is deur die rowers doodgeskiet toe hy geweier het om saam met hulle in ’n vragmotor te klim.
Dit bring die getal toeriste en buitelanders wat die afgelope paar maande in die gebied gevange geneem is op nege te staan.
Volgens Courtney is die Sahel- gebied, bestaande uit die woestyndele van Mali, Togo en Benin, al lank berug weens rooftogte op konvooie vragmotors. Dié se voorraad word verkoop.
“Nou na-aap rowers dié optrede en dit word ’n winsgewende bedryf omdat sekere lande maklik lospryse betaal,” het Courtney gesê.
Die groep waarin McGown, wat ook Britse burgerskap het, hom bevind het, was suidwaarts op pad en McGown sou hom binnekort in Suid-Afrika kom hervestig nadat hy jare in Brittanje gewerk het.
Hulle was in ’n restaurant by ’n hotel in Timboektoe toe swaargewapende rowers ingestorm het.
Rijke se vriendin was buite in die tent op hul viertrekvoertuig. Sy het doodstil bly sit totdat die rowers en gyselaars vertrek het.
Voor die ontvoering het Sjaak op sy blog oor hul “droomreis deur die Sahara” geskryf plaaslike inwoners se waarskuwings dat daar Al-Kaïda-milisies in die omgewing is, is “onsin”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld