Ontvoerde man se lyk gevind
2010-10-27 05:11
Johannesburg – Die lyk van ‘n 32-jarige man wat vroeër ontvoer is, is Dinsdag in ‘n staatslykhuis in Mahwelereng gevind, het die polisie in Limpopo gesê.
Volgens lt. kol. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, is Nkiti Mashishi op 16 Oktober ontvoer en glo by die Kranskop-tolhek afgelaai.
“Die slagoffer is glo op 18 Oktober naby die Nyl Plaza-tolhek deur ‘n motor raakgery,” het Ramatseba gesê.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
‘n Polisiebeampte van die Rabie Ridge-polisiestasie, twee vroue (onderskeidelik 26 en 43 jaar oud) en ‘n 28-jarige man is reeds in verband met Mashishi se ontvoering in hegtenis geneem.
Die vier verdagtes het Maandag in Matlala in die hof verskyn.
Die saak is uitgestel tot 8 November vir verdere ondersoek. Nie een van die verdagtes is borgtog toegestaan nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA