Ontvoerde kind gekry, weet nie wie sy is
2009-09-15 07:05
Hilda Fourie
Johannesburg - ’n Tweejarige meisie wat Donderdag in Durban ontvoer is, is gister in Pretoria by ’n haarsalon afgelaai.
Al wat lede van die Wonderboompoort-polisiekantoor uit haar kon kry, is dat haar naam Kedina is. Aan sommige polisielede het sy gesê sy is twee jaar oud en aan ander dat sy drie jaar oud is.
Sy het nie geweet wat haar van is, waar sy bly of wie haar ouers is nie.
Op ’n vraag waar haar ma en pa is, het sy in Engels gesê: “I don’t know.”
Dit het later geblyk haar naam is Kedina Naicker.
Insp. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê die klein krulkoppie is Donderdag by Southbeach deur ’n man met blonde hare, vermoedelik ’n prostituut, ontvoer.
Die omstandighede rakende die ontvoering is nie duidelik nie. Dis vermoedelik dieselfde man wat haar gisteroggend by ’n haarsalon in Les Marais, Pretoria, afgelaai en gesê het dat hy haar verlate op ’n trein in Johannesburg gekry het.
“Mommy is gone. Daddy is gone,” het Kedina oor haar ouers aan polisielede gesê.
Olivier is gistermiddag oorval met oproepe van talle ouers wat gevra het of Kedina dalk hul vermiste dogtertjie is.
Volgens Olivier het twee Durbanse polisiebeamptes oor die radio van Kedina gehoor en haar ma, Patricia Naicker, opgespoor.
Naicker het presies aan Olivier haar dogter se pienk Crocs-skoene met skoenlappers en hartjies op beskryf.
“Sy was histeries toe sy hoor ons het haar dogtertjie,” het Olivier gesê.
Michelle Bala, eienaar van die Wyse Uiltjie Akademie in Mayville, het Kedina tydelik onder haar vlerk geneem totdat sy met haar ma herenig sal word. Volgens Bala was Kedina skoon en haar naels netjies geknip toe sy by haar aankom, maar “tot die dood toe honger”.
Nadat Kedina gebad en gevoed is, het sy gespeel, rondgehardloop, gesels en nou en dan lekker gelag. Volgens Bala lyk sy gelukkig.
- Beeld