‘Ontvoerde’ braai toe lekker saam met pelle
2011-12-28 10:52
Port Elizabeth. – ’n Baaise “ontvoerde” is deur die polisie aangekeer waar hy op Kersdag langs die Hartbeespoortdam saam met sy vriende gebraai het.
Die vrou van dié sakeman, wie se naam eers bekend gemaak kan word nadat hy Woensdag in die hof verskyn het, het vroeër in ’n polisieverklaring gesê sy het ’n oproep van “ontvoerders” ontvang.
Kapt. Stanley Jarvis, polisiewoordvoerder, sê hulle vermoed hy wou die losprys van R5 miljoen, wat deur sy “ontvoerders” geëis is, gebruik om hom uit ’n geldelike penarie te kry.
Die man was glo Johannesburg toe vir sake en het, volgens sy vrou, tussen 12 en 13 Desember verdwyn. Sy het hom op 16 Desember as vermis by die polisie aangemeld en die eenheid teen georganiseerde misdaad het dadelik met ’n ondersoek begin.
Hulle het sy selfoonstate nagespoor om vas te stel met wie hy almal gepraat het.
Volgens Jarvis het hulle daarna ook met sy Facebook-vriende kontak gemaak en het die spoor uiteindelik reguit na ’n adres in die omgewing van die Hartbeespoortdam gelei.
“Plaaslike ondersoekbeamptes het op Kersdag op dié adres toegeslaan en hom gevind waar hy besig was om langs die braaivleisvuur met sy vriende te kuier.”
Die man verskyn Woensdag in die landdroshof op aanklag van dwarsboming van die gereg en bedrog van R5 miljoen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld