‘Ontvoerde’ baba terug by pa, ouma
2012-01-29 09:45
Isabeau Potgieter, die 17 maande oue babameisie wat glo deur haar ma ontvoer is, is veilig terug in Kaapstad by haar pa, Evert Potgieter (35), en ouma, Susan Potgieter (58).
Die Kaapse hooggeregshof het twee weke gelede beslis die meisietjie se ma, Marelize Potgieter (31), het haar onwettig Durban toe gevat en die kind moet teruggaan na haar pa en ouma.
Isabeau is uiteindelik verlede Woensdag om 10:00 aan haar ouma oorhandig.
“My hart is uitgeruk, dis so hartseer.
“Niemand in die wêreld sal verstaan waardeur ’n ma gaan as haar baba uit haar arms geneem word nie,” sê Potgieter jr. nou.
Rapport het verlede week berig hoe sy soos ’n speld verdwyn het toe Potgieter en sy ma in Durban was om die kind te gaan haal.
Potgieter jr. sê die bewerings dat sy verdwyn het is vals: Sy het glo nie geweet hulle kom Isabeau haal nie en het by vriende gekuier.
Sy voer nou aan sy het haar man verlaat omdat hy haar afgeknou het en haar skoonma in hul lewe ingemeng het.
Haar skoonma ontken dit.
“Isabeau is veilig, sy loop en speel, sy huil nie en soek nie na haar ma nie,” sê Potgieter sr. Potgieter jr. sê sy gaan baklei om haar kind terug te kry.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport