'Ontvoerde' Nuwejaar agter tralies
2011-12-29 09:59
Port Elizabeth. – Die “ontvoerde” sakeman wat op Kersdag by ’n braai by Hartbeespoortdam gearresteer is, sal Nuwejaarsdag agter die tralies sit.
Giel Matthys Mans (35) van Charlo, wat glo ontvoer is, maar later by vriende in Gauteng opgespoor is, het gister vlugtig in die Port Elizabethse landdroshof verskyn.
Mans, in ’n groen Springbok-windjekker, staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling. Hy wil op 3 Januarie om borgtog aansoek doen.
Mans was glo aan die hoof van ’n beleggingskema in Port Elizabeth waar sowat R9miljoen verdwyn het. Sy vrou het die polisie gekontak toe haar man vermis geraak het en ’n onbekende man haar glo gebel en ’n losprys van R5miljoen vir Mans se vrylating geëis het.
Die polisie glo Mans wou dié geld gebruik om sy mislukte beleggingskema te probeer red.
“Die vrou se naam word voorlopig weerhou omdat die ondersoek nog in ’n sensitiewe stadium is. Ondersoekbeamptes glo nie sy is by misdaad betrokke nie,” het kapt. Stanley Jarvis, polisiewoordvoerder, gister gesê.
Volgens Jarvis sal die polisie ondersoek instel om te kyk of Mans met ander bedrog- of diefstalsake verbind kan word.
Hulle vermoed hy het van verskeie name en identiteitsdokumente gebruik gemaak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld