Ontsnapte gevangene weer in hegtenis
2011-11-15 18:57
Johannesburg – ‘n Gevangene wat in April uit die Excelsior-polisiekantoor ontsnap het, is in Ladybrand in die Vrystaat in hegtenis geneem, het die polisie Dinsdag gesê.
Hy is Sondag by ‘n familielid se huis opgespoor en geboei, het sers. Martin Xuma gesê.
“Hy word nou aangehou by die Kroonstad Korrektiewe Sentrum.”
Hy sal na verwagting op 21 November in die Clocolan-landdroshof verskyn op aanklagte van verkragting, poging tot brandstigting en aanranding.
Hy het na bewering op 5 Oktober verlede jaar sy voormalige meisie se huis aan die brand probeer steek. Toe sy die huis verlaat het, het hy haar met ‘n skerp voorwerp oor die kop geslaan.
“Hy het haar toe na die buitewyke van die township geneem, waar hy haar na bewering verkrag het,” het Xuma gesê. Die meisie het die volgende oggend die verkragting by die polisie aangemeld.
Die man is ‘n dag later in hegtenis geneem en is na die Excelsior-polisiekantoor oorgeplaas, waar hy deur die dak ontsnap het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA