Ontploffing ruk stil woonbuurt
2009-12-04 06:20
Hilda Fourie
Pretoria - ’n Poging om glo bye uit te wis het Donderdag ’n reuse-ontploffing in die weste van Pretoria veroorsaak wat ’n lelike nadraai vir die bestuurder en ’n werknemer van Newtec Blast BK en talle van hul bure gehad het.
Harold Venter (36), wat dié onderneming bestuur, en Albert Olckers (21), ’n leerlingskietwerker, moet Vrydag in die Pretoriase landdroshof op aanklagte van ontploffing van springstof en die onwettige berging van springstof verskyn.
Hulle het beweer hulle het brandstof aan die brand gesteek om bye uit te wis, maar die polisie ondersoek die moontlikheid dat springstof gebruik is.
Inwoners het die slag van die ontploffing agter in ’n erf in Mineralstraat in Pretoria Tuine omstreeks 15:00 beskryf as “’n mortier wat geval het”, “’n kitsbank wat ontplof het”, “die aarde het gebewe” en “asof die oorlog hier is”.
Die slag is tot by die Zandfontein-begraafplaas ’n paar kilometer daarvandaan gehoor.
Talle huise het groot skade opgedoen nadat vensters gebreek, ligte gebars en plafonne gesak het.
’n Kroonkandelaar van R35 000 in ’n huis sowat ’n blok daarvandaan het ook gebreek.
Niemand is beseer nie.
Olckers se ma, Amanda Olckers, het in haar sitkamer in haar huis in Mineralstraat gesit toe sy die slag gehoor het.
“Ek is nie doodseker wat gebeur het nie, maar daar was bye in die sinkhuis agter in die erf. My seun wou dit uitroei. Hy het petrol daarop gegooi en dit aan die brand gesteek,” het sy in trane gesê.
“Daarna weet ek nie wat gebeur het nie, want ek het nog nie kans gehad om met my kind te praat nie.
“Almal sê nou my kind werk elke dag met dié goed en dat hy mos moet weet, maar hy het dit nie opsetlik gedoen nie.
“Nou moet my kind ’n nag in die selle gaan sit en Vrydag in die hof verskyn.
“Almal druk my kind nou af...maar ek kan net sê dankie, liewe Here, my kind lewe.”
Die ontploffing het die sinkhuis inmekaar laat sak en ook ’n gat van sowat ’n half meter diep en een en ’n half meter breed veroorsaak. By die gat het houers gelê waarop “explosives” en “slagdoppies detonation” staan.
Olckers weet nie van enige springstof wat moontlik op die perseel was nie.
Insp. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gesê springstof wat onwettig op die perseel was en ontlont is, het vermoedelik die ontploffing veroorsaak.
Volgens ingeligtes op die toneel is minstens 10 kg kommersiële springstof gebruik.
Cassie van Rensburg, wie se erf aan die Olckerse s’n grens, het die slag gehoor en gesien hoe val die gloeilampe, plafonne en glasstukke. “Dit was soos ’n mortier wat geval het.”
Hannes Crafford, wat by sektorpolisiëring in die omgewing betrokke is, het dadelik in sy bakkie gespring om ’n kitsbank te gaan soek wat opgeblaas is, want dit is wat eerste by hom opgekom het.
’n Vriend het hom van die ontploffing laat weet.
“Toe ek die slag hoor, het ek gekoes en gesien hoe die voëls vlieg en alles trek. Die aarde het gebewe,” het Crafford gesê.
- Beeld