Ontploffing ruk hospitaal in Jhb
2011-11-15 13:54
Johannesburg – Sowat 40 pasiënte is uit die Leratong-hospitaal in Krugersdorp, wes van Johannesburg, ontruim nadat 'n suurstofsilinder in die toelatingsaal ontplof het.
Niemand is beseer nie, het Simon Zwane, woordvoerder van die departement, gesê.
"Daar is skade aan die saal, maar niks ernstig nie."
Zwane het gesê ingenieurs van Afrox, die maatskappy wat die silinders verskaf, is na die hospitaal gestuur om vas te stel wat gebeur het.
Die Demokratiese Alliansie het gesê 'n ondersoek moet gedoen word.
"Die hospitaal het 'n groot agterstand in onderhoudswerk en ons moet weet wat die oorsaak van die ontploffing was," het Jack Bloom, die DA se koukusleier in Gauteng, gesê.
"Baie verskaffers het opgehou om toerusting te diens omdat hulle nie betaal is nie."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA