Ontploffing in fabriek eis 3
2009-09-10 10:33
Johannesburg - Drie mense is Donderdagoggend dood en vyf ander is beseer tydens ‘n ontploffing by ‘n fabriek in Springs.
Die ontploffing het by die maatskappy Sincor, in die voorstad van Struisbult plaasgevind en blyk om verwant te hou met argon-gas. Verdere besonderhede oor die oorsaak is nog nie bekend nie.
"Ons is in kennis gestel van ‘n brand maar toe ons op die toneel aankom, het ons besef dat daar ‘n ontploffing was”, het Roggers Mamaila, ‘n woordvoerder vir nooddienste, gesê.
Nick Dollman, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, het gesê werkers was by hulle daaglikse oggendvergadering toe die ontploffing plaasgevind het.
“Daar was ‘n skielike ontploffing wat van die mense tot buite die gebou geslinger het”, het hy gesê.
Drie mense is op die toneel dood en die vyf ander wat beseer is, is na twee verskillende hospitale geneem.
Die ontploffing het geen brande veroorsaak nie.
- Sapa