Ontploffing by hospitaal ondersoek
2011-11-15 21:01
Johannesburg – Die oorsaak van ‘n suurstoftenk-ontploffing Dinsdag by die Leratong-hospitaal aan die Wes-Rand word ondersoek, het die Gautengse departement van gesondheid gesê.
Volgens Simon Zwane, woordvoerder, het die maatskappy Afrox, wat die suurstoftenke voorsien, ‘n ingenieur ontplooi om ondersoek in te stel.
Die suurstoftenk het omstreeks 09:00 in Saal 14 ontplof. Ongeveer 40 pasiënte is na ander sale ontruim. Niemand is beseer nie. Die saal funksioneer weer normaal en geen ernstige skade is aangemeld nie.
Volgens Zwane is die ontploffing nie veroorsaak deur ‘n agterstand in instandhouding nie.
Jack Bloom, DA-LPW, het in ‘n verklaring gesê daar moet bevestig word of die agterstand die oorsaak van die ongeluk was, met verskaffers wat blykbaar weens nie-betaling nie die toerusting in stand hou nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA