Ontkleeklub gee Semenya R20K
2009-10-01 02:22
Kaapstad - Teazers-ontkleedansklubs gaan Caster Semenya R20 000 persent gee.
Lolly Jackson, eienaar van die dansklubs, het Woensdagaand in ’n verklaring gesê die geskenk kom van hom persoonlik af.
'n Klag is onlangs by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA) ingedien oor ’n Teazers-advertensiebord in Rivoniastraat in Sandton.
Op die advertensiebord is 'n kaal vrou wat in 'n uitlokkende posisie op haar rug lê, met die bewoording: "Geen geslagstoetse nodig" oor die vrou se lyf gedruk.
'n Storm van omstredenheid het onlangs losgebars oor Semenya se geslag, ná haar deelname aan die Wêreldkampioenskappe in Berlyn.
Jackson het egter vroeër gesê Teazers se advertensieveldtog het niks met Semenya te doen nie.
Volgens die klubeienaar is dit ontwerp om dit duidelik te maak dat werknemers van dié ontkleeklub 100% vroulik is.
Jackson het egter in sy mees onlangse verklaring gesê dat hy vir Semenya R20 000 gaan gee omdat sy by die omstredenheid rondom die advertensiebord betrek is.
"Teazers het besluit om vir Caster Semenya R20 000 te skenk omdat die publiek haar betrek het by die negatiewe publisiteit wat die Teazers-advertensie in die media geniet het," het die verklaring gelees.
Volgens Jackson sal sy die geskenk kry "omdat sy een van Suid-Afrika se beste vroueatlete is."
Die eienaar van die ontkleeklubs het ook gesê as dit nie was vir wanbestuur nie, Semenya nooit by die kwessie betrek gewees het nie.
"Hierdie advertensie is nie geskep met Caster in gedagte nie. Weens Atletiek Suid-Afrika se leuens is die kwessie egter na die voorgrond gebring," lees die verklaring.
- Nuus24