'Onsensitiewe' polisiehoof moet jammer sê
2012-10-24 12:32
Kaapstad – Die Demokratiese Alliansie het gesê hy is geskok oor berigte van genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, se gedrag tydens 'n sitting van die kommissie van ondersoek na die Marikana-slagting.
Phiyega het glo gelag en grappies gemaak terwyl beeldmateriaal van die skietery by Lonmin se Marikana-myn by die Farlam- kommissie van ondersoek gespeel is, het The Times Woensdag berig.
Phiyega het glo grappies gemaak met 'n regsadviseur van die staat toe beeldmateriaal gespeel is van die mynwerkers wat doodgeskiet is.
Sy het geglimlag terwyl sy gekyk het.
Die polisiehoof het ook geweier om kommentaar te lewer toe sy gevra is waaroor sy lag.
Dianne Kohler Barnard, DA-LP en woordvoerder oor die polisie, het Phiyega se gedrag as "hoogs onvanpas en onsensitief" beskryf.
"Dit is nie die eerste keer dat Phiyega oneerbiedig optree teenoor die families van die mynwerkers wat by Marikana dood is nie."
Volgens Kohler Barnard het Phiyega op die begrafnis van 'n polisielid, wat by Marikana dood is, gesê die polisie "moenie jammer voel vir hul optrede nie".
"Ons sal vandag 'n brief aan Nathi Mthethwa, minister van polisie, skryf en vra dat hy haar beveel om 'n openbare verskoning te maak."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24