Zille: Ons steek niks weg oor radioprogram
2010-09-15 07:55
Kaapstad - “Wat is die probleem? Het ek nou my varkies verloor of wat?”
Met dié woorde het die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, Dinsdag uitgevaar oor die politieke turksvy rondom die gebruik van belastingbetalers se geld vir haar spesiale radioprogram.
“Dit is ’n radiostasie. Hulle verkoop lugtyd. Niks is weggesteek nie,” het sy bygevoeg.
Zille het dit gister duidelik uitgespel waarom ’n voorstel van ’n betaalde tydgleuf op die radiostasie Heart 104.9FM, wat in 2006 gemaak is, reeds tóé vir haar sin gemaak het en steeds sin maak.
Zille was in daardie stadium die burgemeester van Kaapstad en het oorspronklik in die 2006-’07-boekjaar elke laaste Maandag van die maand ’n tydgleuf van 30 minute op Heart FM gehad.
In die daaropvolgende boekjaar is ’n nuwe jaar lange kontrak van R360000 aangegaan vir ’n uur lange tydgleuf.
Toestemming is vooraf verkry om van die standaard-tenderprosedure vir munisipaliteite af te wyk, omdat die idee vir die program ’n unieke voorstel was.
Dit sou ook volgens die aansoek vir die afwyking deur Zille se burgemeesterskantoor nie regverdige praktyk gewees het indien die radioprogram op tender sou uitgaan nie. Zille het Dinsdag bevestig HeartFM het haar met die idee genader.
“Ons moet ingevolge die Grondwet openbare deelname hê. Ons bestee geld as deel van die proses van openbare deelname en ons kyk wat die grootste waarde vir ons geld bied. Wat is daarmee verkeerd?”
Sy het gesê die oorspronklike idee van HeartFM kon nie na ander radiostasies geneem word vir ’n tenderprosedure nie, omdat dit ’n unieke idee was.
Zille het verduidelik toe sy as premier na die provinsiale regering skuif, het dit ’n “wyer kwessie” geraak. Daarom is die radioprogram op provinsiale vlak met die nuwe kontrak op tender geneem.
Volgens Zille is drie kwotasies van onderskeidelik Good Hope FM, Kfm en HeartFM gekry. Heart se kwotasie was die goedkoopste.
Zille het in dié tyd ook haar opvolger as Kaapstadse burgemeester, Dan Plato, gevra om met dié nuwe kontrak die koste van R49500 per program te deel. Plato het ingestem tot dié uitgawe.
’n Uitgawe van R247500 (BTW uitgesluit) is buite die plaaslike regering se tenderproses goedgekeur, omdat daar reeds op provinsiale vlak ’n tenderproses daarvoor was.
- Regulasies maak onder meer voorsiening vir ’n afwyking op tenderprosedures deur die stadsraad indien ’n ánder staatsliggaam die kontrak bekom het na aanleiding van ’n gepasde mededingende proses op daardie staatsvlak.
- Die Burger