'Ons sal grond vat' - Malema
2011-06-19 22:31
Johannesburg – Die leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, het Sondag by die afsluiting van dié liggaam se verkiesingskonferensie opnuut beloof om “grond sonder betaling” te vat.
“Daar is geen manier waarop jy diplomaties kan wees oor die kwessie van grond nie. Ons sal nooit diplomaties oor gewillige koper, gewillige verkoper wees nie. Dit het gefaal,” het hy aan afgevaardigdes gesê.
Hy het gesê die ANC het by sy laaste verkiesingskongres in Polokwane in Desember 2007 erken daar moet ‘n alternatief vir die beleid van gewillige koper, gewillige verkoper gevind word.
“Die leierskap van die ANC moet nou die Polokwane-besluite implementeer. Polokwane het gesê gewillige koper, gewillige verkoper het gefaal en ons moet ‘n alternatief vind.
“Julle het daarin gefaal om ‘n alternatief te vind. Ons moet die grond sonder betaling vat,” het Malema gesê.
Hy het egter bygevoeg: “As julle ‘n alternatief het, is ons bereid om te luister.”
Malema het gesê die afgevaardigdes wat die vier dae lange konferensie bygewoon het, is “gereed om die wit monopolie-kapitaal” te konfronteer.
“Hulle is gedetermineerd om hul grond terug te eis en ons vra vir leierskap.”
Indien die ANC se leierskap nie slaag in hierdie kwessie nie, sal die Jeugliga ‘n “ongeleide revolusie lei, wat die grond sal terugeis,” het Malema gesê.
Pieter Mulder, leier van die VF+, het ‘n beroep op boere gedoen om hulself te “beveilig” na aanleiding van Malema se uitsprake.
In ‘n verklaring het hy gewaarsku dat Malema se opmerkings oor grondeienaarskap “ons terugvat na die tydperk voor 1994, toe geweld en selfs die moontlikheid van ‘n burgeroorlog deel was van die Suid-Afrikaanse debat”.
Mulder – wat ook as adjunkminister van Landbou in President Jacob Zuma se kabinet dien – het gesê daar is geen verskil tussen Malema se standpunt oor grond en grondbeleid en dié van Robert Mugabe, President van Zimbabwe, nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA