'Ons gaan veg om ons liedere te beskerm'
2011-04-14 09:18
Johannesburg – Die geval van ’n skoolseun wat ’n medeleerling met ’n samoerai-swaard doodgemaak het, is Woensdag in die haatspraakverhoor van Julius Malema gebruik om aan te dui watter invloed musiek op ’n jeugdige kan hê.
Dié impak kan selfs erger wees as dit deur ’n rolmodel gesing word, het prof. Christiaan Bezuidenhout, ’n kriminoloog van Pretoria, in die gelykheidshof in Johannesburg getuig.
Voor die samoerai-moord het Morné Harmse, die moordenaar, glo na die death metal-groep Slipknot se musiek geluister, het Bezuidenhout getuig.
Volgens hom is daar 700 keer meer plaasmoorde in Suid-Afrika as in enige ander land en verloor die regering sowat R2 miljoen weens elke boer wat vermoor word.
Dr. Anne-Marie Grey, ’n afgetrede dosent aan die Universiteit van Durban wat haar meestersgraad-verhandeling oor struggle-liedere gedoen het, het getuig om vandag die woorde “dubula iBhunu” (skiet die Boer) te sing sal wees soos om swart mense te spot oor wat in apartheid gebeur het.
Die woorde maak haar “baie ongemaklik”.
Volgens haar is dit nie ’n lied nie, maar eerder ’n kreet.
“’n Kreet is baie meer dreigend vir mense wat dit nie verstaan nie, want dit gaan gepaard met gebare en ’n getoi-toi.”
Sy het getuig sy vind sekere krete ontstellend.
Adv. Roelof du Plessis, namens TLU SA, het vir Grey gevra of sy in haar navorsing ooit op ’n Afrikaanse lied afgekom het wat mense aanhits om swart mense dood te maak.
Sy het gesê sy het nie, maar wel gesê die Afrikaanse vryheidsliedere was meestal teen Britse soldate gemik teen wie hulle in die Anglo-Boereoorlog baklei het, byvoorbeeld die lied Sarie Marais.
Adv. Muzi Sikhakhane, een van Malema se regsverteenwoordigers, het in kruisondervraging aan Grey gesê dit sal nie help om die lied te verbied nie.
“As jy dié lied sou verbied, sal dit net meer en meer gesing word en jy sal dit nie kan stop nie.”
Ná die dag se verrigtinge het Malema, met Winnie Madikizela-Mandela aan sy sy, aan sowat 1 500 mense buite die hooggeregshof gesê: “Ons gaan veg totdat ons ons liedere beskerm het en ons gaan wen, want ons is die kinders van wenners soos Winnie Madikizela-Mandela.”
Metropolisielede het die pad voor die hof van vroegdag af afgesper om vir die dansende en singende lede van die ANC-jeugliga plek te maak.
Sommige het met busse van so ver as Limpopo af gekom en hul krete met die woorde “dubula iBhunu” kon tot by die gelykheidshof op die hof se agtste vloer gehoor word.
Net ná middagete was daar ’n stormloop by die hof. Mense het gedruk en gestoot om Malema te siene te kry.
Sy lyfwagte het nie Woensdag wapens gedra nie, maar die polisielede wat hom en Madikizela-Mandela opgepas het, het wel.
Die verhoor duur voort.
- Volksblad