'Ons dink nog elke dag aan Leigh'
2012-02-01 16:34
Johannesburg – Die ouers van die vermoorde student Leigh Matthews sê hul dogter se moord spook steeds by hulle en hulle het steeds baie vrae oor hoe sy dood is.
‘n Aansoek deur haar veroordeelde moordenaar Donovan Moodley om ‘n herverhoor te kry is Woensdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof teengestaan.
Moodley is in 2005 skuldig bevind aan die student Leigh Matthews se moord en menseroof en die afpersing van haar pa, Rob.
Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord, 15 jaar vir ontvoering en 10 jaar vir uitbuiting. Hy is sedertdien in die tronk.
Leigh se ma, Sharon, het buite die hof gesê dat sy geteister word deur vrae oor haar dogter se ontvoering en moord. Leigh se lyk is 12 dae ná haar ontvoering gevind.
“Ons weet nie waar sy die laaste 12 dae gelos is nie.”
Leigh se pa, Rob, het gesê daar is “baie halwe waarhede” rondom die misdaad.
Sharon het gesê sy is verheug dat die ondersoek steeds oop is.
“Ons praat nog elke dag oor haar, ons dink elke dag aan haar.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA