Onnies sukkel met basiese wiskunde
2011-04-05 15:23
Johannesburg – Wiskunde-onderwysers sukkel met basiese kwessies soos om persentasies te bereken, toon 'n studie wat die Suider- en Oos-Afrikaanse konsortium vir die monitering van onderwysgehalte (Sacmeq III)-datastel vir Suid-Afrika gebruik het.
Die Sacmeq III-opname voorsien die navorsingsgemeenskap van nuwe inligting oor primêre onderwys in Suid-Afrika.
"Onderwysers sukkel regtig met kwessies soos om persentasies te bereken," het prof. Servaas van den Berg, ’n ekonoom van Stellenbosch, gesê.
"Meeste van die onderwysers dink daar is 'n 15% toename wanneer die hoogte van 'n heining van 60 cm tot 75 cm verhoog word," het hy gesê.
"Dit toon ook dat sommige wiskunde-onderwysers probleme het met relatief eenvoudige wiskunde somme."
Die gr. 6-onderwysers is dieselfde toetse as dié van hul leerders gegee om hul kennis te toets.
"Dit is veral kommerwekkend dat onderwysers gapings het in hul vakkennis, maar dit lyk nie asof dit 'n groot invloed het op hoe die kinders presteer nie," het van den Berg gesê.
Volg Nuus24 op Twitter