Onnies 7,5 milj. dae afwesig in 2012
2013-02-26 17:45
Kaapstad – Onderwysers wat stokkiesdraai was sowat 7,5 miljoen dae verlede jaar afwesig, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gesê.
"Ons het die hoogste afwesigheidsyfer in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Ons staan op 19 dae per onderwyser per jaar. 'n Gemiddeld van 10% nasionaal," het sy Dinsdag aan joernaliste in die parlement gesê.
Afwesigheid in ander SAOG-lande is gemiddeld nege dae per onderwyser per jaar.
Volgens die departement was daar 392 000 onderwysers in 2012 regoor die land by openbare skole.
Met elke onderwyser wat 19 dae verlede jaar afwesig was, staan dae aantal dae wat hulle afwesig was, op 7 448 000.
Motshekga het gesê daar is "groot kommer" in haar departement oor onderwyser-verantwoordbaarheid – dit sluit in om betyds by die skool aan te kom en heeldag daar te bly.
Haar departement oorweeg om 'n elektroniese inklokstelsel in plek te stel om die huidige registers te vervang.
Motshekga het in reaksie op 'n vraag gesê die afdae wat onderwysers neem, is "pure afwesigheid," maar het gesê ernstige siektes het ook 'n rol gespeel in die hoë syfer.
Sy het gesê vervoerprobleme is ook 'n rede hoekom baie onderwysers laat of afwesig is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA