Onnie vas ná hy glo 11 meisies verkrag
2011-11-17 11:10
Johannesburg – 'n Hoërskoolonderwyser is in Daveyton in hegtenis geneem nadat hy glo 11 leerders verkrag het, het die Ekurhuleni-polisie Donderdag gesê.
Konst. Timothy Masilela het gesê die 46-jarige onderwyser is Woensdagmiddag in hegtenis geneem.
Masilela het gesê die leerders het 'n les gehad oor mishandeling, insluitend seksuele mishandeling, toe 'n meisie aan die skoolhoof sê sy is deur 'n onderwyser verkrag.
Hy het gesê nóg leerders het toe die skoolhoof genader en 'n saak is teen die onderwyser aanhangig gemaak.
Die gr.11-onderwyser sou na bewering aan die leerders sê om na skool te bly sodat hy hulle met tuiswerk kan help.
Masilela het gesê in sommige gevalle is daar getuies.
Die onderwyser sal na verwagting Donderdag in die Benoni-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA