Onnie sterf tydens pretrit
2011-12-14 07:30
Port Elizabeth. – ’n Jaareindgeselligheid vir onderwysers van ’n laerskool het tragies geëindig toe ’n skoppelmaai die lewe van een van hulle geëis het.
Ernest Meyer (46) het Maandag by die Open Sky-pretpark gesterf. Die ongeluk het gebeur toe personeellede van die Primêre Skool Astra op Bethelsdorp die oggend vir ’n pretdag by die park byeengekom het.
Volgens ao. Alwin Labans, polisiewoordvoerder, was daar agt mense, onder wie Meyer, op die reuse-swaai toe die toestel omstreeks 11:30 probleme ervaar het.
“Dit het tot stilstand gekom en omgeval. Meyer was tóé reg onder die deel wat grond toe geval het,” het Labans gesê.
Ambulanse is na die toneel ontbied, maar Meyer is op die toneel dood verklaar.
Herman van der Merwe, Open Sky se veiligheidsbeampte, het gesê die onlangse reën het moontlik tot die ongeluk bygedra.
“Hoewel die operateur hulle afgeraai het, het die onderwysers daarop aangedring om naby bymekaar te sit. Die toestel was te swaar aan die een kant.
“Onlangse reën het die grond onder die konstruksie saggemaak en dit het ingesak.
“Ons operateur het die masjien gestop toe hy besef wat gebeur, maar dit het steeds omgeval.”
Die departement van arbeid sal die voorval ondersoek.
Intussen laat Meyer se dood ’n groot leemte in sy familie.
“Hy het vir ander omgegee en altyd tyd gehad vir ’n grappie,” het Clio Meyer (22), sy enigste dogter, gesê.
“Altyd as ons familie partytjie gehou het, was hy die een wat almal vermaak het.”
Meyer was langer as 20 jaar ’n wiskunde- en wetenskaponderwyser by Astra Primêr.
Hy was ’n groot sportliefhebber en was die afgelope naweek baie gelukkig toe die All Blacks, sy gunsteling-rugbyspan, die Sewes-wêreldtoernooi in Port Elizabeth gewen het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger