Onnie kritiek ná valskerm-ongeluk
2013-02-25 10:32
Johannesburg – ‘n Jong onderwyseres is in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal ná ‘n valskerm-ongeluk naby Carletonville.
Beeld berig Mariette Loubser van Winchester Hills, in die suide van Johannesburg, is die naweek beseer toe sy haar statieselynsprong van 3 600 vt. by die Johannesburgse valskermklub (JSC) gedoen het.
“Sy het ’n goeie sprong uit die vliegtuig uitgevoer,” het Eugene Potgieter, voorsitter van die klub, gesê.
“Nadat haar valskerm oopgemaak het, het dit begin tol.”
Loubser (25) se linkerlong het op twee plekke geskeur, sy het agt ribbe gebreek, haar pelvis is op twee plekke gebreek en haar linkerbeen is onder die knie gekraak.
’n Nek- en ’n rugwerwel is ook gekraak en daar is bloeding op haar brein.
Sy is per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem, waar sy geopereer is.
Haar pa, Gert, het aan die koerant gesê hy is besorg oor die “tekort” aan mediese personeel op die landingsterrein.
“Die klub moes haar onmiddellik gehelp het.”
Hy beweer hulle het sowat 30 minute gewag totdat iemand hulle kon help.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA