Onnie dwing seun (5) om rok te dra
2010-06-02 10:00
Virginia Keppler, Beeld
’n Onderwyseres het ’n seun (5) van Doringpoort, Pretoria, een skooldag in ’n rok laat loop omdat hy met meisies gespeel en hulle gesoen het.
Divan van Gass, wat in die Maya-kleuterskool in Montana is, het Maandagaand aan Ferdie (33) en Yolandi van Gass (25), sy ouers, gesê: “Dit was nie lekker om in ’n rok te loop nie.
Van Gass is Maandagmiddag vroeër as gewoonlik – om 14:45 en nie om 17:00 nie – na die kleuterskool.
Hy het Divan en sy sussie, Lachrisha (2), daar gaan haal.
“My man sê toe hy aangestap kom, het hy eers gedink hy verbeel hom toe hy Divan in ’n rokkie sien. Toe hy nader kom, kon hy sy oë nie glo toe hy sien dit is ons seun nie,” het mev. Van Gass gesê.
“Hy het die onderwyseres uitgevra oor die rok en sy het gesê hulle straf Divan omdat hy met die meisies gespeel en hulle gesoen het.
“Volgens haar is dit die eerste keer dat hulle hom ’n rok laat dra, maar ons wonder daaroor.
Dalk het hulle die vorige kere die rok vroeg genoeg uitgetrek,” het mev. Van Gass gesê.
Volgens haar het sy Divan gevra hoe lank hy dit aangehad het.
Sy antwoord het daarop gedui hy het heeldag daarin gespeel. “Hoe wreed kan ’n mens wees?”
Mev. Van Gass het gesê sy het die onderwysdepartement gebel, wat laat weet het hulle sal die voorval ondersoek.
Sy het later gesê die skool het haar om verskoning gevra en die onderwyseres het ’n waarskuwing gekry.