Ongrondwetlik om kinders te vát
2011-05-28 07:36
Dele van die Kinderwet oor die verwydering van kinders van hul ouers, voogde of versorgers is Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria ongrondwetlik verklaar.
Die hofsaak spruit uit ’n veldtog in Augustus verlede jaar toe maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling, vergesel van Tshwane-metroraad-amptenare polisielede en joernaliste, kinders van hul ouers langs Pretoriase strate weggeneem het.
Die Sentrum vir Kinderreg aan die Universiteit van Pretoria het die saak namens ’n skoenmakerpa en ’n blinde ma gevoer.
Die pa het sy driejarige dogtertjie by hom gehad omdat sy lewensmaat in die hospitaal was om geboorte aan nog ’n kind te gee, lui die uitspraak.
Die ma kon haar eenjarige baba nie langer borsvoed nie omdat sy in ’n skool vir blindes geplaas is en die kleintjie en haar vierjarige sussie in ’n plek van veiligheid.
“Al was daar ’n hoë graad van beplanning, is geen poging deur die betrokke maatskaplike werkers aangewend om ’n hofbevel vir die verwydering van die kinders te kry nie: ’n Prosedure, so is betoog, wat ’n vereiste vir die verwydering vir kinders is, behalwe in noodsituasies,” het regter Hans Fabricius gesê.
Volgens hom is daar twee wettige maniere om kinders te verwyder. Die verkieslike metode is om ’n hofbevel by die Kinderhof te verkry.
Die Kinderwet maak vir die tweede manier voorsiening. Ingevolge art. 152 kan ’n aangewese maatskaplike werker of polisiebeampte ’n kind verwyder en in tydelike veilige sorg plaas sonder ’n hofbevel.
“Die klaarblyklike oogmerk van art. 152 is om te verseker dat die nood-verwydering van kinders net onder streng voorwaardes plaasvind.”
Ingevolge dié artikel, gelees saam met die ooreenstemmende regulasies, het ’n maatskaplike werker 90 dae om ’n ondersoek te doen en eers dán word die kind voor die Kinderhof gebring. “Dit beteken daar is geen outomatiese verskyning voor die Kinderhof wat die partye in staat sal stel om die gepastheid van die verwydering te betwis nie.”
Die probleme met art. 151 en 152 is dat dit lyk of die verwydering nie regtens betwis kan word nie, het die regter gesê.
Die hofverrigtinge ná die 90 dae gaan ook nie oor die verwyderingsbesluit of die plasing nie, maar oor of die kind sorg en beskerming nodig het.
“Gearresteerde mense, by wyse van vergelyking, het sekere grondwetlik beskermde regte ...”
Hangende ’n besluit van die konstitusionele hof oor die bekragtiging van sy besluit om die artikels ongrondwetlik te verklaar, het Fabricius beveel dat sulke sake binne 24 uur aan ’n maatskaplike werker oorhandig moet word vir plasing voor die Kinderhof.
Dié sake moet binne 48 uur voor die Kinderhof geplaas word wat jurisdiksie oor die verwydering en plasing sal hê, het hy beveel.
Die respondente, waaronder die Gautengse departement van gesondheid en welsyn, die Tshwane-metroraad, die minister van polisie en maatskaplike ontwikkeling en verskeie plekke van veiligheid, het die aansoek nie teengestaan nie.

Maatskaplike werkers, polisielede en amptenare van die Tshwane-metroraad verlede jaar by die skoenmaker oorkant die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria met sy driejarige dogtertjie, wat hulle by hom verwyder het. Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis wetgewing wat dié soort verwydering magtig, is ongrondwetlik.
Foto: Wayne Coetzee
- Beeld