Ongerymdhede in tender van 93 milj. gevind
2011-11-11 14:46
Noordwes – Altesaam 25 ongerymdhede is gevind in die toekenning van 'n tender van R93,5 miljoen vir die herstel van paaie, het Thandi Modise, premier van die Noordwes, Vrydag gesê.
"Down Touch Investments moes nooit oorweeg word vir die tender nie omdat hy nie onderworpe was aan die tenderreëls wat deur die departement uiteengesit is nie," het Modise in 'n verklaring gesê.
"Die departement moes ook nooit die tender aan Down Touch Investments toeken nie omdat hy nie die tenderdokumente voltooi het nie."
Daar is bevind dat ander geskikte tenders verkeerdelik uitgesluit of elimineer is.
Modise het gesê die verlenging van die sperdatum vir inhandigings was verkeerdelik uitgevoer en nie voldoende aan alle maatskappye gekomunikaar nie.
Die onafhanklike ingenieursfirma Nyeleti het die tender wat aan die maatskappy toegeken is, op gronde van regverdigheid, deursigtigheid en koste-effektiwiteit ondersoek.
Bouwerk aan die P34/2 Koster- en Lichtenburg-pad is in Oktober opgeskort toe Globul Roads, 'n ander bieër, die toekenning van die tender bevraagteken het op grond daarvan dat hy die gunsteling was om die tender te kry.
Die maatskappy het 'n hofinterdik gevra om die bouwerk te stop.
Modise het die projek op ys geplaas en Sandile Mbanjwa, waarnemende hoof van paaie en vervoer, geskors hangende 'n ondersoek of hy die tender onwettig toegeken het.
Down Touch Investments het om 'n interdik teen Modise se ingryping aansoek gedoen, maar dit is met koste van die hand gewys.
Die uitvoerende komitee van die Noordwes het gesê hy sal die aanstelling van Down Touch Investments hersien en die moontlike beëindiging van die kontrak oorweeg.
Die komitee sal ook interne ondersoeke doen om ander beamptes wat hulself skuldig maak aan wangedrag, te dissiplineer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA