"Ongerymdhede" in matriekeksamen aangemeld
2009-11-20 20:55
Johannesburg - Twaalf "ongerymdhede" is vandeesweek tydens die matriekeksamen aangemeld, maar niks wat die integriteit van die matriekeksamen bedreig nie.
"Elf van die ongerymdhede is administratiewe foute en een dié van gedrag," het die departement van onderwys in 'n verklaring gesê.
Driekwart van die eksamen is reeds voltooi.
Granville Whittle, 'n woordvoerder van die departement van onderwys, het gesê een van die leerders is met studiemateriaal in die eksamenlokaal gevang.
Die administratiewe foute wissel van leerders wat nie vir vakke geregistreer het nie, tot toesighouers wat nie by roostertye hou nie.
Daar was ook 'n voorval waar die verkeerde pak vraestelle oopgemaak is, maar dit is toe verseël.
Vyf vraestelle het by 'n privaatkollege in Mpumalanga uitgelek. Dít is die enigste voorval waar matriekvraestelle uitgelek het.
– Sapa