Ongeluk op N8 eis twee
2011-12-29 15:28
Bloemfontein – Twee mans is dood en ‘n vrou is ernstig beseer nadat 'n bakkie en 'n motor in 'n trompop-botsing betrokke was.
Volgens ‘n woordvoerder vir ER24, Vanessa Jackson, het die ongeluk Woensdagmiddag op die N8 naby Petrusburg in die Vrystaat plaasgevind. 'n Hyundai-bakkie het 'n ander voertuig getref.
“Teen die tyd wat paramedici op die toneel aangekom het, was die man in die Hyundai-bakkie reeds dood,” het Jackson gesê.
Die tweede man het buite die voertuig gelê, maar het kort ná die paramedici daar aangekom het, ook gesterf.
Die twee mans is op die toneel dood verklaar.
‘n Vrou is in die pad langs die bakkie aangetref.
Sy is per helikopter na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein geneem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA