Ongeluk is glo selfmoord
2010-07-28 15:50
Pretoria – ’n Man het Woensdagoggend in ’n beweerde selfmoord reg voor ’n vragmotor in die middel van die Daspoort-tonnel in Pretoria ingery, berig Beeld.
Kapt. Dumisani Ndlazi, polisiewoordvoerder, het gesê ’n man in ’n groen Uno het in ’n suidelike rigting in die tonnel gery en die vragmotor het in ’n noordelike rigting gery.
“Reg in die middel van die tonnel het die man in die Uno voor die vragmotor ingeswaai.
“Hy is op slag dood. Die vragmotorbestuurder is ernstig beseer en na ’n hospitaal gebring."
Die brandweer is besig om die man se lyk met die kake van die lewe uit sy opgefrommelde motorwrak te bevry, het Ndlazi gesê.
Die tonnel is gesluit vir verkeer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld